Alles wat lieflik is en alles wat loflik is - bedink dit...
Alles wat waar is, alles wat rein is, watter deug en watter lof daar ook mag wees....
Visie
Ek loop reeds 'n hele paar jaar met 'n brandende begeerte in my hart rond om 'n Tuisskool Kurrikulum of program beskikbaar te maak wat spesifiek gemik is op die Afrikaans sprekende kind. 'n Kurrikulum wat in lyn is met die beginsels van Charlotte Mason en ook 'n bietjie klassieke onderrig inkorporeer. Die tyd het gekom om hierdie droom te verwesenlik. Ek het besluit om dit Lieflik en Loflik Tuisskool Program te noem om die essensie van my droom in die naam te kan vasvang. Ek droom van 'n opvoeding waar kinders blootgestel word aan die mooi in die lewe , waar hulle smaak knoppies ontwikkel is om 'n dieet van klassieke kuns, letterkunde en musiek te verkies bo oppervlakkige kitskos dieet van opvoeding wat vandag vir ons kinders aangebied word. 'n Program waar die leerder intens betrokke is , leer met genot en elke dag meer selfvertroue kry. So 'n opvoeding is die droom vir my kinders - en ook vir joune. Ek hoop dat ek met hierdie program - my visie tot 'n werklikheid sal kan bring.
Charlotte Mason in Afrikaans
Charlotte Mason was 'n opvoeder in Brittanje aan die einde van die 1800's. Haar metode van opvoeding word gekarakteriseer deur die volgende elemente: Lewendige boeke(nie droë handboeke nie), terug vertel(narration),kort lesse, natuurstudie, komponis en kunstenaar studie, kopieerwerk,2de/3de taalstudie, gesange studie(hymn study) en volksliedere. Haar leuse is :" Education is an atmosphere, a discipline, a life". Ek wil getrou aan Charlotte Mason , die elemente hierbo inkorporeer en 'n eg Afrikaanse vertolking daarvan maak. Ek sal sover dit in my vermoë is gebruik maak van lewendige boeke en stories om vir die kinders hulle lessies oor te dra.Ek sal veral ouer bronne gebruik waar die waardes in die stories in lyn is met waarheid en deugsaamheid.Lesse sal kort wees - sodat kinders ten volle kan aandag gee aan die les tot aan sy einde. Kinders sal gevra word om terug te vertel- hoe meer hulle dit oefen , hoe beter sal hulle dit regkry. Die natuur sal bestudeer word - kinders word aangemoedig om waar te neem en in die vorm van 'n skets weer te gee wat hulle sien. Kinders sal gevra word om kopieerwerk te doen van uitgekose "lewendige teks". Ek sal Duitse lessies insit vir 'n derde taal. Ek sal aanbevelings maak vir Engels tweede taal. Ons sal leer van verskeie kunstenaars en komponiste. Hier sit ek ook kuns waardeering lessies by vir ons eie Suid-Afrikaanse musikante en kunstenaars. Ons sal FAK liedjies leer en Bybel liedjies (skrif wat getoonset is). Ek sal ook oefeninge insit - Charlotte Mason het gebruik gemaak van Swedish Drill - ek sal een Swedish Drill klassie per week in sit , maar ek sal ook ander , meer moderne oefeninge insit. Daarby saam is daar ook karakter lessies, aanbevole Bybel versies vir memorisasie en gedigte en rympies om te leer. Regte Charlotte Masoners mag dalk vind dat my vertolking van haar metodes te modern is, maar my hoop is om 'n vreugdevolle en deugsame opvoeding te gee en ter selfde tyd steeds die pret te behou en die tyd waarin ons leef ingedagte te hou... Dus: 'n Moderne Afrikaanse Charlotte Mason Kurrikulum.
Hierdie is 'n program in wording...
Soos menigte ander goed in die lewe , vat goeie goed tyd om na behore te ontwikkel. Rome is nie in 'n dag gebou nie - en om hierdie program op die vlak te kry waar ek dit wil hê gaan ook tyd vat. Om hierdie rede het ek besluit om dit in kleiner brokkies op te deel en stuks gewys beskikbaar te stel - todat ek dan alles saamgestel het en kan saamvoeg as 'n volledige program. Ek voorsien dat dit nog 'n ruk sal wees voordat Lieflik en Loflik 'n volledige Tuisskool in Afrikaanse Program sal wees - intussen kan die materiaal wat ek ontwikkel en saamstel aanvullend gebruik word tot enige ander program wat gevolg word. Ek hoop dit bring vreugde in jou huishouding!
Ons leer letters
Gelukkige kinders op die letter program :-).

Boeties en sussies leer saam!

Die trekker dra die appels aan...

Kyk my mooi arend!